fbpx

Val de Vie-aftreeoord: Hoekom lewensreg?

News

Aftree-eiendom is een van die subsektore in die Suid-Afrikaanse huismark waar die vraag die aanbod steeds verreweg oorskry. Een van die grootste private ontwikkelaars en eiendomseienaars in die land, die Amdec Group, gryp al ’n geruime tyd die geleentheid aan om munt te slaan uit die tekort. ’n Vennootskap tussen Amdec se aftree-afdeling Evergreen Lifestyle Retirement en die luukse Val de Vie-landgoed in die Paarl-Franschhoekvallei in die Kaapse Wynland maak dit nou moontlik vir diegene van 60 jaar en ouer om in styl en met gemoedsrus in die land se voorste landgoedontwikkeling nes te skop. Op 14 November is Val de Vie Evergreen, ’n aftreeontwikkeling in die hart van die Val de Vie-landgoed, bekend gestel. Dit bied afgetredenes plooibare koopopsies en toegang tot geriewe van wêreldgehalte bied. Die lewensreg-opsie het tot gevolg dat al die instand-houding van die huise deur die ontwikkelaar behartig word, wat dit amper maak soos om in ’n hotel te bly.

Die eenhede word verkoop met ’n lewensregopsie, wat die koper die reg op lewenslange verblyf in ’n spesifieke eiendom gee met toegang tot mediese dienste vir alle ouderdomsfases. James Wilson, uitvoerende hoof van Amdec, sê daar is op die lewensregopsie besluit omdat dit internasionaal die keuse van aftree- eiendomseienaarskap is vir diegene wat op aftrede staan en veral gewild is omdat dit bekostigbaarder is as ander koopopsies. Hy sê dit gaan nie vir afgetredenes meer net oor die finansiële opbrengs nie. Dit is vir hulle net so belangrik om deel te wees van ’n leefstyl met ’n gemeenskapsfokus. Hy sê ouer mense is geneig om te vereensaam, maar Val de Vie Evergreen se holistiese aftreebenadering maak dit moontlik dat hulle in hul goue jare kan floreer. Evergreen se gemeenskappe is sinoniem met ’n gesonde leefstyl en finansiële voorspoed in ’n ontspanne sosiale omgewing.

Ryk Neethling, Val de Vie se bemarkingsdirekteur en ’n aandeelhouer in die landgoed, verwag dat die lewensregopsie oor vyf jaar ook in Suid-Afrika die opsie van keuse vir afgetredenes sal wees. “Die lewensregopsie het tot gevolg dat al die instandhouding van die huise deur die ontwikkelaar behartig word, wat dit amper maak soos om in ’n hotel te bly,” sê hy.

Wat jy kry

Val de Vie Evergreen gaan 400 eksklusiewe huise hê, 200 wooneenhede/suites met bystanddienste en 80 beddens vir verswaktes. Pryse wissel tussen R2,9 miljoen en R5,2 miljoen vir huise van tussen 148 m² en 203 m² op erwe van tussen 339 m² en 411 m².

Voorste handelsnaam

Evergreen Lifestyle Retirement is in 2008 deur die Amdec Group gevestig en het sedertdien tot die voorste aftreehandelsnaam in die land ontwikkel. Amdec se portefeulje sluit in Melrose Arch in Johannesburg en die R10 miljard-Harbour Arch-ontwikkeling in Kaapstad. PSG Alpha Investments, ’n filiaal van die genoteerde PSG Group, het ’n belang van 50% in Evergreen Lifestyle. Die vennootskap tussen twee kragtige nasionale handelsname bied gemoedsrus aan die snel groeiende getal middel- tot hoë-inkomste-afgetredenes in die land. Volgens Neethling is daar enorme voordele daaraan verbonde om in die aftreeoord in een van die land se grootste eiendomslandgoedere af te tree. Veiligheid en sekuriteit is die belangrikste daarvan. Val de Vie is immers internasionaal bekroon as die veiligste landgoed in Suid-Afrika. “Nie net kry afgetredenes toegang tot hul eie, unieke geriewe nie, maar ook tot die wye spektrum geriewe en dienste van wêreldgehalte waarvoor Val de Vie so gesog is.” Die aftreeoord se unieke geriewe sluit in ’n private klubhuis, ’n biblioteek, ’n veeldoelige geleentheidsentrum, ’n haarsalon, ’n gimnasium, ’n arbeidsterapiekamer, ’n rolprent­kamer, sit-/eetkamer en ’n bistro. Ryk Neethling, bemarkingsdirekteur van Val de Vie. Val de Vie is ’n wyn-, gholf-, ruiter- en leefstyllandgoed in een, die enigste ter wêreld wat so divers is. Die toevoeging van ’n luukse aftree-ontwikkeling het tot gevolg dat daar ’n eiendomsopsie vir elke ouderdomsgroep op die landgoed is, sê Neethling. Bitter min erwe is op die landgoed oor en dié aftreeoord is ’n gulde geleentheid vir kopers om in Val de Vie te kom woon.

Nog ’n infrastruktuurtoevoeging op Val de Vie is ’n brug oor die Berg­rivier wat teen R100 miljoen in aanbou is. Dié brug, wat teen einde Januarie 2018 voltooi sal wees en die landgoed met die R45 verbind, sal die reistyd van Val de Vie se R45-ingang na die dorpskern in Stellenbosch met tot sowat 20 minute verkort. Die infrastruktuur-konstruksie vir die aftreeoord is reeds aan die gang en die bouwerk aan die eerste huise gaan in Januarie 2018 begin. Die aftree-eiendomsmark is ’n sterk groeiende mark omdat diegene wat aftrede bereik glad nie meer in ’n sogenaamde “ouetehuis” wil aftree nie, maar eerder in ’n luukse aftreeoord.

Te min opsies vir afgetredenes

Aftreeoorde op ’n landgoed waar afgetredenes al die geriewe kan geniet, is uiters gesog, sê dr. Andrew Golding, uitvoerende hoof van Pam Golding Properties. Volgens die groep se navorsing gaan die persentasie Suid-Afrikaners van 60 jaar en ouer teen 2050 tot 15,4% van die totale bevolking verdubbel. Ondanks verskeie nuwe aftree-ontwikkelings is daar steeds nie voldoende voorraad om in die toenemende behoefte te voorsien nie.

John Loos, verbruiker- en eiendomstrateeg van First National Bank, sê die ouderdomsgroep wat hul huise verkoop om af te skaal of af te tree, is ’n mark wat nie onderskat moet word nie. Dié groep was in die derde kwartaal van vanjaar die grootste enkele groep huisverkopers en 26% van alle huisverkopers het verkoop om af te skaal. “Die groep is ’n belangrike bron van transaksie-aktiwiteit in swakker ekonomiese tye soos wat ons tans beleef,” sê hy.

 

Bron: Beeld